Geagte mede-Suid-Afrikaners,
Sedert die begin van Mei toe ons begin het om die landswye korona-inperking geleidelik te verlig, het baie mense geleidelik teruggekeer werk toe.
As deel van die gefasseerde herstelproses van die ekonomie kon ondernemings in bepaalde gespesifiseerde nywerhede hul bedrywighede gedeeltelik of in die geheel hervat.
Die nasionale koronaviruswaarskuwingsvlak is nou op 4, wat beteken dat uiterste voorsorgmaatreëls steeds ingestel bly om gemeenskapsoordrag te beperk. Ons doel is om die waarskuwingsvlak konstant te verlaag deur die infeksiekoers te beperk en ons gesondheidsorgstelsel gereed te maak vir die onvermydelike toename in gevalle.
Namate die inperking geleidelik verlig word, sal die lewe stadig maar seker hervat. Maar dit sal nie die lewe wees soos ons dit voorheen geken het nie.
Alhoewel daar steeds heelwat onbekende aspekte oor die pandemie is, stem die kenners nou saam dat die virus nog lank wêreldwyd 'n bedreiging vir openbare gesondheid sal inhou.
Ons moet ons dus daarop voorberei om nog 'n jaar of langer met die koronavirus saam te leef.
Ons moet voorbereid wees op 'n nuwe realiteit, waarin die stryd teen COVID-19 deel van ons alledaagse bestaan word.
Ons sukses om die virus te oorwin, sal uiteindelik bepaal word deur die veranderinge in ons optrede.
Selfs nadat die inperking opgehef is – veral nadat die inperking opgehef is – sal ons steeds sosiale afstand moet handhaaf, gesigsmaskers moet dra, ons hande gereeld moet was en kontak met ander mense moet vermy.
Ons gaan werkplekke, skole, universiteite, kolleges en ander openbare plekke moet herorganiseer ten einde oordrag te beperk.
Ons sal moet aanpas by nuwe maniere van aanbidding, sosialisering, oefening en byeenkomste om die geleenthede vir die virus om te versprei, sover moontlik te beperk.
Dit is 'n werklikheid wat lande regoor die wêreld in die gesig staar. Selfs daardie lande wat begin het om hul inperkingsmaatreëls te verslap, doen dit tentatief en met groot omsigtigheid.
Net soos ons, implementeer baie lande omvattende stimuluspakette om hul onderskeie gesondheidsorgsektore te versterk, kwynende nywerhede en werkers te ondersteun en verligting aan kwesbare huishoudings te bied.
Net soos ons, moes hulle ook versoeke vir die hervatting van ekonomiese aktiwiteit hanteer. Net soos ons landsburgers, is hul bevolkings ook ongeduldig en gefrustreerd met die inperking van hul persoonlike vryheid.
Terselfdertyd waarsku gesondheidskenners regoor die wêreld teen 'n 'tweede golf' van infeksies wanneer die openbare lewe hervat word. 'n Klompie lande, insluitend Duitsland, Iran en Sjina, het 'n toename in nuwe infeksies beleef sedert hulle bepaalde beperkings opgehef het.
By ons sal dit nie anders wees nie. Ons kan en moet verwag dat infeksies sal toeneem namate al hoe meer mense terugkeer werk toe. Ons moet die realiteit aanvaar, daarop voorberei en daarby aanpas.
Die volgende fase van die nasionale reaksie handel ewe veel oor kontinuïteit as oor verandering en innovering. Ons sal ons intensiewe siftings-, toets- en gevallebestuursprogram versterk. Ons sal nuwe maatreëls instel om kontakopsporing meer doeltreffend te maak.
Ons sal die massa-sanitasie van werkplekke, openbare vervoer en ander ruimtes moet toepas.
Sedert die begin van die landswye inperking het die meeste Suid-Afrikaners die regulasies wat ter wille van hul eie gesondheid en veiligheid ingestel is, nagekom. Hulle het 'n ingeligte besluit geneem om dit te doen, omdat hulle verstaan dat dit nodig is vir die veiligheid van hul eie lewens en dié van die mense rondom hulle.
Namate die beperkings op ekonomiese aktiwiteite en ons daaglikse lewe verslap word, is dit noodsaaklik dat Suid-Afrikaners 'n sterk sin van persoonlike verantwoordelikheid behou. Ons moet in alles wat ons doen, op elke lewensterrein, na ons eie gesondheid en dié van ander omsien.
Ons almal, hetsy individue, werkgewers, werknemers, die regering, burgerlike samelewing, vakbonde of sakeondernemings, sal steeds 'n rol moet speel om die pandemie te bestry.
Net soos ons ons gedrag moes verander om die verspreiding van MIV te verhoed, moet ons nou ons gedrag verander om die koronavirus te stop.
Die landwye inperking het vir Suid-Afrika 'n groot strategiese voordeel ingehou. Dit het vir ons waardevolle tyd gewen om ons gesondheidsorgstelsel voor te berei en beheermaatreëls in te stel. Dit het die oordrag vertraag en lewens gered.
De oorgang na die volgende fase van die reaksie op die koronavirus, naamlik herstel, sal selfs moeiliker wees. Die risiko dat infeksies kan uitbreek, sal verhoog. Die druk op ons klinieke en hospitale en op ons mediese personeel sal toeneem.
Dit is waarom die verslapping van die inperkingsregulasies nie moet lei tot onverskillige gedrag deur individue of roekelose praktyke deur ondernemings wat só gretig is om ekonomiese bedrywighede te hervat dat dit ten koste van mense se gesondheid is nie.
Die korona-krisis sal verbygaan. Maar solank dit 'n bedreiging vir ons mense se lewens inhou, moet ons waaksaam, ywerig en verantwoordelik bly.
Nou, meer as ooit tevore, word ons almal se lot deur elke individu se gedrag bepaal.
Met beste wense,
Menu