Skip to main content
x

Verklaring deur President Cyril Ramaphosa oor bykomende ekonomiese en sosiale maatreëls in reaksie op die COVID-19-epidemie

My Mede-Suid-Afrikaners,

Dit is nou 25 dae sedert Suid-Afrika se landwye staat van inperking om die verspreiding van die koronavirus te stuit, begin het.

Dit het baie vasberadenheid en uithouvermoë van almal geverg.

Dit het baie lyding veroorsaak en opoffering geverg.

Weereens huldig ek julle en bedank julle.

Die koronavirus-pandemie het julle lewens ontwrig en ons ekonomie benadeel.

Die erns daarvan sal in die komende weke en maande steeds sy tol eis.

Die pandemie het tot die skielike verlies aan inkomste vir ondernemings en individue gelei, sowel as groter armoede en toenemende honger.

Die dringende en dramatiese maatreëls wat ons getref het om die verspreiding van die virus te vertraag, was absoluut noodsaaklik.

Dit het ons die ruimte gegee om beter te reageer op die onvermydelike toename in infeksies en om sodoende tienduisende lewens red.

Terwyl die landwye inperking 'n verwoestende uitwerking op ons ekonomie het, is dit niks
in vergelyking met die rampspoedige menslike, maatskaplike en ekonomiese koste as die koronavirus ongemerk onder ons mense sou versprei het nie.

Mediese wetenskaplikes en ons medici lig ons in dat ons nog in die vroeë stadium van die
pandemie is.

Sonder bewese terapeutiese medisyne of 'n entstof, kan ons verwag dat die probleem vir die afsienbare toekoms sal voortduur.

Ons belangrikste prioriteit is nou om die gesondheidsingrypings wat nodig is om die verspreiding van die siekte in toom te hou en te vertraag, te verskerp en om lewens te red.

Tot op hede het die koronavirus die lewens van ten minste 58 mense in ons land geëis.
Dit is 'n verlies wat ons almal betreur, want ons weet watter pyn en angs dit vir hul geliefdes veroorsaak.

Uit die meer as 126 000 toetse wat gedoen is, is 3 465 bevestigde gevalle van die koronavirus geïdentifiseer.

Meer as 2 miljoen mense in gemeenskappe regoor die land is gesif, waaronder meer as 15 000 vir toetsing verwys is.

Naas die ongekende poging om openbare gesondheid te beveilig, is daar ook die maatreëls wat ons neem om ons mense se lewensbestaan te beskerm, om honger en nood af te weer, en om ons ekonomie op 'n pad van herstel te plaas.

Vanaand wil ek u toespreek oor ons ekonomiese en maatskaplike reaksie op hierdie wêreldwye gesondheidsnoodtoestand.

Die pandemie verg 'n ekonomiese reaksie wat gelyk is aan die omvang van die ontwrigting wat dit veroorsaak.

Ons ekonomiese reaksie kan in drie fases verdeel word.

Die eerste fase het middel Maart begin toe ons die koronavirus-pandemie tot 'n
nasionale ramp verklaar het.

Dit het 'n wye verskeidenheid maatreëls ingesluit om die ergste gevolge van die pandemie op besighede, gemeenskappe en individue te verlig.

Die maatreëls sluit belastingverligting, die vrystelling van ramphulpfondse, noodverkryging, loonondersteuning deur die WVF en befondsing aan klein ondernemings in.

Ons begin nou met die tweede fase van ons ekonomiese reaksie om die ekonomie te stabiliseer, die uiterste afname in vraag en aanbod te hanteer en om werk te beskerm.

As deel van hierdie fase kondig ons vanaand 'n belangrike maatskaplike verligting- en ekonomiese ondersteuningspakket van R500 miljard aan, wat ongeveer 10% van die BBP beloop.

Die derde fase is die ekonomiese strategie wat ons sal implementeer om ons ekonomiese herstel te stimuleer namate die land uit hierdie pandemie kom.

Die kern van die ekonomiese herstelstrategie sal die maatreëls wees wat ons sal tref, om die
vraag en aanbod te stimuleer deur middel van ingrypings soos 'n wesentlike program vir die opbou van infrastruktuur, die spoedige implementering van ekonomiese hervormings, die transformasie van ons ekonomie en die aanpak van alle ander stappe wat inklusiewe ekonomiese groei sal aanvuur.

Ons sal dit in die komende dae uiteensit.

Die afgelope paar dae was ons in gesprek met verskillende belanghebbendes.

Ons het vergader met sake-, arbeid- en gemeenskapskiesafdelings in NEDLAC.

Ons het met premiers, LUR'e en metroburgemeesters gesprek gevoer, sowel as met die lede van die Presidensiële Ekonomiese Adviesraad.

Na afloop van hierdie vergaderings het die Kabinet verskillende voorstelle oorweeg en die maatskaplike verligting- en ekonomiese ondersteuningspakket, wat die kern van die tweede fase van ons ekonomiese reaksie vorm, gefinaliseer.

Dit behels:

Eerstens, ’n buitengewone gesondheidsbegroting om op die koronavirus te reageer;

Tweedens, die verligting van honger en maatskaplike nood;

Derdens, steun vir maatskappye en werkers;

Vierdens, die geleidelike heropening van die ekonomie.

Die uitwerking van die koronavirus vereis 'n buitengewone koronavirusbegroting – ongeveer R500 miljard – om hulpbronne te gebruik om die pandemie te beveg.

Dit sal die herprioritisering van ongeveer R130 miljard binne die huidige begroting insluit.

Die res van die geld word uit plaaslike bronne, soos die Werkloosheidversekeringsfonds (WVF), sowel as van wêreldwye vennote en internasionale finansieringsinstellings verkry.

Tot op hede is die Wêreldbank, die Internasionale Monetêre Fonds, die BRICS Nuwe Ontwikkelingsbank en die African Development Bank genader en werk saam met die Nasionale Tesourie oor verskillende befondsingstransaksies.

Sommige van hierdie instellings het finansieringspakkette geskep wat daarop gerig is om hulp te verleen aan lande soos ons, wat die koronaviruskrisis moet hanteer.

Hierdie befondsing sal in die eerste plek gebruik word om die reaksie op die gesondheidsaspek van die koronavirus te befonds.

As ons die verwagte toename in gevalle suksesvol moet bestuur en verseker dat almal
wat behandeling nodig het, dit ontvang, moet ons voorsiening maak vir bykomende uitgawes vir persoonlike beskermende toerusting vir gesondheidswerkers, gemeenskapsifting, 'n toename in toetsingskapasiteit, bykomende beddens in veldhospitale, ventilators, medisyne en personeel.

Die landwye inperking het 'n negatiewe uitwerking op munisipaliteite se inkomste, terwyl die eise wat aan hulle gestel word toeneem.

Bykomende befondsing van R20 miljard sal dus aan munisipaliteite beskikbaar gestel word vir die voorsiening van noodwatervoorsiening, verbeterde besmetting van openbare vervoer en fasiliteite, en die voorsiening van kos en skuiling vir haweloses.

Besonderhede sal bekend gemaak word in die aanpassingsbegroting wat deur die Minister van Finansies voorgelê sal word. 'n Ander belangrike aspek wat heelwat bykomende uitgawes verg, is die verligting van honger en maatskaplike nood in gemeenskappe regoor die land.

Terwyl ons maatreëls ingestel het om werkers se lone in die formele ekonomie te beskerm
en ondersteuning aan klein, medium en mikro-ondernemings (KMMO’s) uitgebrei het, sukkel miljoene Suid-Afrikaners in die informele ekonomie en dié wat werkloos is, om te oorleef.

Armoede en voedselonsekerheid het binne enkele weke dramaties verdiep.
Om die kwesbaarste gesinne in die land te bereik, het ons besluit om 'n tydelike koronavirus toelaag vir ses maande toe te ken.

Ons sal R50 miljard gebruik om die lot van diegene wat die desperaatste is as gevolg van die koronavirus, te verlig.

Dit beteken dat begunstigdes van kindertoelae 'n bykomende R300 in Mei sal ontvang en
van Junie tot Oktober, 'n ekstra R500 per maand.

Alle ander begunstigdes sal vir die volgende ses maande 'n ekstra R250 per maand kry.

Daarbenewens sal 'n spesiale Covid-19-noodverligtingstoelaag van R350 per maand vir die volgende ses maande aan individue betaal word wat tans werkloos is en geen ander vorm van maatskaplike toelae of WVF-betaling otvang nie.

Die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling sal die vereistes wat nodig is vir toegang tot hierdie befondsing en hoe om aansoek te doen, beskikbaar stel.

Ons het besef dat die regering se kapasiteit om voedsel te versprei nie voldoende is om aan die groot behoefte wat sedert die begin van die epidemie ontstaan het, te voldoen nie.

Die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Maatskaplike Sekerheid - SASSA - sal binne 'n paar dae 'n tegnologie-gebaseerde oplossing om voedselhulp deur middel van bewyse en kontantoorplasings van stapel stuur om te verseker dat hulp diegene wat dit nodig het vinniger bereik.

Om in die onmiddellike behoefte te voorsien, het die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling ook 'n vennootskap saam met die Solidariteitsfonds, NRO's en gemeenskapsgebaseerde organisasies aangegaan om 250 000 kospakkies regoor die land oor die volgende twee weke uit te deel.

Ons is hoogs ontsteld oor berigte van gewetenlose mense wat die verspreiding van voedsel en ander hulp vir korrupte doeleindes misbruik.

Ons sal nie huiwer om te verseker dat mense wat by sulke aktiwiteite betrokke is, met die volle mag van die wet gekonfronteer word nie.

Hoewel daar reeds verskeie ingrypings binne die regering bestaan om die buitengewone hoë werkloosheid te hanteer, soos die Uitgebreide Openbare Werkeprogram en die Gemeenskapswerkprogram, is dit is nie genoeg nie.

Die koronaviruskrisis sal daartoe lei dat baie mense hul werk verloor.

'n Bykomende R100 miljard word opsygesit vir die beskerming van werkgeleenthede en om werkgeleenthede te skep.

Sedert die verklaring van 'n nasionale ramptoestand meer as 'n maand gelede, het die regering verskeie maatreëls in plek gestel om werknemers se lone te steun en om ondernemings in nood te help.

Teen die einde van vandag het die WVF se spesiale COVID-19-bydrae, R1,6 miljard aan meer as 37 000 ondernemings en 600 000 werkers uitbetaal.

R40 miljard is opsygesit vir inkomste-ondersteuningsbetalings aan werkers wie se werkgewers nie hul lone kan betaal nie.

Ons bied steeds hulp aan - in die vorm van lenings, toelaes en herstrukturering van skuld – aan KMMO's, spazawinkeleienaars en ander informele ondernemings.

Die waarde van hierdie bystand is tot dusver meer as R100 miljoen.

'n Bykomende bedrag van R2 miljard sal beskikbaar gestel word om KMO's, spazawinkeleienaars en ander klein ondernemings by te staan.

Die IDC-fasiliteit om maatskappye te ondersteun om persoonlike beskermingstoerusting aan te skaf of te vervaardig, is die afgelope paar weke gebruik, met finansiering van R162 miljoen wat tot dusver goedgekeur is.

Ander vorme van ondersteuning is ook uitgebrei na kunstenaars, atlete en tegniese personeel, sowel as mense wat afval herwin en mense wat by die omgewingsafdeling van openbare werke betrokke is.

Hoewel hierdie maatreëls beduidende verligting vir baie ondernemings en werkers bied, is dit duidelik dat daar 'n veel groter behoefte regdeur die ekonomie is.

Ons sal derhalwe 'n leningwaarborgskema van R200 miljard in samewerking met
die groot banke, die Nasionale Tesourie en die Suid-Afrikaanse Reserwebank bekendstel.

Dit sal ondernemings help met hul bedryfskoste, soos salarisse, huur en die betaling van
verskaffers.

In die beginfase sal ondernemings met 'n omset van minder as R300 miljoen per jaar,
in aanmerking kom.

Na verwagting sal die skema meer as 700 000 firmas en meer as 3 miljoen werknemers deur hierdie moeilike tydperk ondersteun.

Verskeie banke is gereed om die skema voor die einde van die maand in werking te stel.

Die regering werk ook aan bykomende ondersteuningsmaatreëls vir kwesbare en geaffekteerde sektore soos die taxibedryf.

Benewens die bestaande belastingverligtingsmaatreëls, stel ons ook 'n verligtingstydperk van vier maande in vir ondernemings se vaardigheidsontwikkeling heffingsbydraes, ’n versnelling van BTW-terugbetalings en drie maande se uitstel vir die indiening en eerste betaling van koolstofbelasting.

Om 'n groter aantal ondernemings by te staan, word die vorige omsetdrempel vir die uitstel van belasting verhoog tot R100 miljoen per jaar, en die persentasie van die LBS-betaling, wat uitgestel kan word, sal tot 35 persent verhoog word.

Besighede met 'n omset van meer as R100 miljoen per jaar kan direk by die SAID aansoek doen op 'n geval-tot-geval basis vir die uitstel van belastingbetalings.

Geen boetes vir laat betalings sal van toepassing wees as daar gewys kan word dat hulle materieel negatief geraak is in hierdie tydperk.

Belastingbetalers wat skenkings aan die Solidariteitsfonds maak, kan tot 10%
as 'n bykomende aftrekking van hul belasbare inkomste eis.

Hierdie belastingmaatreëls sal altesaam minstens R70 miljard aan kontantvloeiverligting of direkte betalings aan ondernemings en individue bied.

Die Minister van Finansies sal verdere besonderhede oor bogenoemde en ander belastingverwante inligting voorsien.

Wanneer al hierdie maatreëls in werking gestel word, sal ons seker maak dat vroue, die
jeug en persone met gestremdhede, veral aandag en ondersteuning ontvang.

Die Suid-Afrikaanse Reserwebank het ook 'n belangrike bydrae gelewer om die rieële ekonomie te ondersteun.

In ooreenstemming met sy grondwetlike mandaat het dit die repokoers in effek met 200 basispunte verlaag om minstens R80 miljard in die reële ekonomie te ontsluit, en ander stappe is neem om bykomende likiditeit aan die finansiële stelsel te voorsien.

Verskeie handelsbanke en versekeringsmaatskappye het ook pogings tot ekonomiese verligting gesteun, deur onder meer die uitstel of vermindering van paaiementbetalings, die verskaffing van skuldverligting, en kwytskelding van bankkoste vir begunstigdes.

Die vierde stap waarop die Kabinet ooreengekom het, is die gefaseerde heropening van die ekonomie.

Ons sal 'n risiko-aangepaste benadering tot die opening van ekonomiese aktiwiteit volg, deur die voortgesette behoefte om die verspreiding van die koronavirus te beperk met die behoefte om mense terug by die werk te kry, te balanseer.

Soos ek al voorheen gesê het, as ons die inperking te gou of te skielik beëindig, loop ons die risiko dat die siekte op groot skaal en onbeheerbaar sal herleef.

Ons sal dus 'n gefaseerde benadering volg, gelei deur die beste beskikbare wetenskaplike bewyse, om geleidelik die beperkings op ekonomiese aktiwiteite op te hef.

Terwyl ons dit doen, bly ons vasbeslote om die oordrag van die virus te stuit.

Ons sal dus in die weke en maande wat voorlê, met behendigheid en buigsaamheid moet optree, en op die situasie reageer namate dit ontwikkel.

Ek sal die nasie Donderdag toespreek oor die maatreëls wat buite die landwye inperking getref sal word om die ekonomie te heropen.

Hierdie krisis sal nie vir ewig duur nie, en die dag sal aanbreek dat hierdie maatreëls nie meer nodig sal wees nie.

Tot dan moet ons egter seker maak dat al ons mense voldoende ondersteuning kry.
Die omvang van hierdie noodlenigingsprogram is geskiedkundig.

Dit demonstreer dat ons geen moeite of onkoste sal ontsien in ons vasberadenheid om
ons mense te ondersteun en teen gevaar te beskerm nie.

Ons sal - en ons moet - alles doen wat nodig is om van hierdie menslike, maatskaplike en ekonomiese krisis te herstel.

Ons land en die wêreld waarin ons leef, sal nooit weer dieselfde wees nie.

Ons is vasberade om nie net ons ekonomie te laat terugkeer tot waar dit voor die koronavirus was nie, maar om 'n nuwe ekonomie te smee in 'n nuwe globale werklikheid.

Ons ekonomiese strategie vorentoe sal 'n nuwe sosiale kompak tussen alle rolspelers verg
–  die sakesektor, arbeid, die gemeenskap en die regering – om die ekonomie te herstruktureer en inklusiewe groei te bewerkstellig.

Deur voort te bou op die samewerking wat tydens hierdie krisis onder alle maatskaplike vennote gesmee word, sal ons die strukturele hervormings wat nodig is om die koste verbonde aan saketransaksies, versnel om lokalisering en industrialisasie te bevorder, sowel as om ondernemings in staatsbesit te hersien en om die informele sektor te versterk.

Ons sal 'n kompak skep vir radikale ekonomiese transformasie wat die vooruitgang van die ekonomiese posisie van vroue, jeugdiges en persone met gestremdhede sal verseker, en dat ons stede, dorpe, nedersettings en landelike gebiede lewendige sentrums van ekonomiese aktiwiteit sal word.

Ons nuwe ekonomie moet gegrond wees op regverdigheid, bemagtiging, geregtigheid en gelykheid.

Dit moet elke hulpbron, elke vermoë en elke innovasie wat ons het, in diens van die mense van hierdie land gebruik.

Ons nuwe ekonomie moet nuwe horisonne oopmaak en nuwe geleenthede bied.

Die afgelope maand het Suid-Afrikaners hulle harte vir mekaar oopgemaak.

Selfs op hierdie oomblik wanneer groot opofferings van ons gevra word, kyk ons  met optimisme na 'n beter toekoms.

Terwyl ons ’n tyd van ernstige gevaar beleef, terwyl groot opofferings gevra word, terwyl ons nie durf om ons waaksaamheid te verslap nie, kyk ons vorentoe na 'n beter toekoms.

Ek glo in die deursettingsvermoë en veerkragtigheid van gewone Suid-Afrikaners wat keer op keer bewys het – regdeur ons geskiedenis – dat hulle die uitdagings kan oorkom.

Ons sal herstel.

Ons sal oorwin.

Ons sal floreer.

Mag God Suid-Afrika seën en haar mense beskerm.

Ek dank u.

 Union Building