Skip to main content
x

Toespraak deur President Cyril Ramaphosa oor Suid-Afrika se reaksie op die COVID-19 koronaviruspandemie

Landgenote,

Dit is nou net meer as 100 dae sedert die eerste geval van die koronavirus in Suid-Afrika geïdentifiseer is.

Ons leef al vir 100 dae in die skaduwee van een van die grootste bedreigings vir wêreldwye gesondheid in meer as 100 jaar.

Die siekte en die maatreëls wat ons ingestel het om dit bestry, het massiewe ontwrigting in mense se lewens veroorsaak; dit het ons ekonomie tot ’n stilstand gebring en bedreig miljoene mense se lewensbestaan.

Tot dusver het dit die lewens van 1 674 mense geëis.

Te midde van hierdie dodelike pandemie, is ons besonder bemoedig deur nuus hierdie week van ’n deurbraak in die behandeling van COVID-19.

Navorsing deur die Universiteit van Oxford in Brittanje, het aangedui dat die middel deksametasoon – wat ook in Suid-Afrika deur een van ons farmaseutiese maatskappye vervaardig word en waarvan daar volop beskikbaar is – sterftes onder pasiënte wat met ventilators behandel word, met ’n derde verminder het.

Die Departement van Gesondheid en die Ministeriële Adviesraad het aanbeveel dat deksametasoon oorweeg moet word om pasiënte wat op ventilators is en suurstofbehandeling kry, te behandel.

Ons glo dat dit ons bestuur van die siekte onder diegene wat die swaarste geraak word, sal verbeter.

Sedert die begin van die uitbreking, is 80 412 bevestigde koronavirusgevalle in Suid-Afrika aangeteken. Van hierdie, het 44 331 mense – of ongeveer 55% – herstel. Dit beteken daar is tans 34 407 aktiewe gevalle in die land. Nietemin, soos ons weet, is die verlies aan lewens heelwat hoër.

Ons het aan die begin van die siekte se ontwikkeling in Suid-Afrika besluit om internasionale reis en byeenkomste te beperk deur ’n nasionale ramptoestand aan te kondig. Ons het vervolgens ook ’n landwye staat van inperking ingestel om die verspreiding van die virus te vertraag.

Hierdie stappe was daarop gerig om die kurwe van infeksies af te plat, sodat ons gesondheidstelsel beter in staat sou wees om aandag te gee aan die groot hoeveelheid mense wat behandeling nodig het.

As gevolg van die beslissende stappe wat ons toe geneem het – en spesifiek deur ons samewerking, vasberadenheid en opoffering as ’n nasie – het ons daarin geslaag om die verspreiding van die virus te vertraag.

Een van die maniere om die tempo van verspreiding te meet, word die verdubbelingstydperk genoem. Dit is die aantal dae wat dit neem vir die algehele hoeveelheid gevalle om te verdubbel.

In die drie weke voor die implementering van die landwye inperking, het die aantal infeksies elke twee dae verdubbel.

Tydens vlak 5 van die inperking, het die verdubbelingstydperk tot 15 dae toegeneem, wat beteken dat dit heelwat langer geneem het vir die virus om te versprei.

Tydens vlakke 4 en 3 was die verdubbelingstydperk ongeveer 12 dae.
Ons het die inperkingstyd gebruik om ons gesondheidstelsel voor te berei en te verbeter en om openbare gesondheidsmaatreëls in gereedheid te bring om infeksies te minimaliseer.
 
Die werk om ons gesondheidstelsel te versterk – insluitend die vestiging van meer as 100 kwarantynsentrums, meer intensiewesorgeenhede en beddens in veldhospitale en die aanstel van bykomende gesondheidspersoneel – gaan voort in al ons provinsies.

Maar hoewel ons die inperking gebruik het om die kurwe te begin afplat, is hierdie proses nog lank nie afgehandel nie. Selfs na 100 dae, is ons steeds naby die begin van hierdie epidemie, en sal dit nog maande lank, moontlik jare, met ons wees.

Om die koronaviruspandemie te hanteer is soos om ’n marathon te hardloop en nie ’n naelloop nie; ons moes derhalwe ons reaksie in ooreenstemming met daardie realiteit vorm.

Oor die laaste paar weke het die aantal infeksies vinnig gestyg.
Bykans ’n derde van alle bevestigde gevalle is gedurende die afgelope week alleen aangeteken en meer as die helfte van alle bevestigde gevalle is oor die laaste twee weke aangeteken.

Die Wes-Kaap is tot dusver die swaarste deur die siekte getref met ongeveer 60% van die land se infeksies.

Terwyl verspreiding in gemeenskappe die afgelope nege weke regdeur die land laag gebly het, het dit daar vinnig gestyg.

Dit lyk of verspreiding in die Oos-Kaap ook nou begin toeneem en dit is dalk net ’n paar weke agter die Wes-Kaap.

Die siekte, wat vir baie van ons vêr weg was, kom nou al hoe nader.
Al hoe meer van ons ken nou iemand wat die virus het, hetsy dit by die werk, by die skool of in ’n kerk, moskee, tempel of sinagoge is. Dit kan een van ons vriende of ’n familielid wees.

Baie van julle is bekommerd oor die toename in infeksies en voel angstig oor die veiligheid en welstand van julle geliefdes.

Julle is bekommerd oor die moontlikheid dat julle die virus sal kry, in ’n taxi of op ’n bus, by die werk of by winkels, by die skool of universiteit, tydens ’n besoek aan ’n kliniek of ’n hospitaal.
Hierdie kommer is verstaanbaar en redelik.

Want namate die land geleidelik ontsluit word, namate ons meer aktiwiteite hervat, neem die risiko van infeksie onvermydelik toe.
Nietemin, al is die risiko van infeksie groter, is dit geensins onvermydelik nie.

Deur ons optrede as individue, kan ons die waarskynlikheid dat ons die virus sal kry of dit na ander sal oordra, verminder. Dit is deur ons persoonlike en gesamentlike optrede dat ons steeds die tempo van infeksies in ons samelewing kan vertraag.

Studies dui daarop dat die dra van ’n lapmasker of soortgelyke kledingstuk wat jou mond sowel as jou neus te alle tye
 terwyl jy in die openbaar is, bedek, een van die maatreëls is wat die tempo van oordrag van die virus verlaag.

Miljoene Suid-Afrikaners – insluitend klein kindertjies – dra nou lapmaskers wanneer hulle hul huise verlaat.

Daar is egter sommige Suid-Afrikaners wat nog nie die gewoonte om ’n masker te dra aangeneem het nie.

Ons wil almal in die land aanmoedig om maskers te dra wanneer hulle in die openbaar is.

Ons moet ook seker maak dat ons nie maskers deel nie en dat ons maskers gereeld en deeglik met seep en water gewas word nadat ons dit gebruik het.

Die dra van maskers is egter nie ’n plaasvervanger vir ander maatreëls soos om gereeld jou hande met seep en water of ’n ontsmetmiddel te was nie, of om ’n afstand van minstens 1,5 meter tussen jou en ander mense te behou nie.

Laat ons almal onthou om nie aan ons gesigte te vat met ongewaste hande nie en om oppervlakke gereeld skoon te maak en te ontsmet nie.

Ons moet ook in gedagte hou dat sosiale afstandhouding steeds een van die doeltreffendste maniere is om die verspreiding van die virus te stuit.

Hierdie basiese gewoontes word nou selfs meer belangrik namate ons die inperking verslap en ’n nuwe fase in ons koronavirusrespons betree.

Dit bly steeds die beste maniere om die verspreiding van die virus te stuit.

Ons mediese kundiges het aanbeveel dat ingrypings soos die opstel van berokingstonnels en liggaamsbespuiting nie gebruik moet word nie aangesien hierdie metodes geen bewese voordeel inhou nie, en selfs skadelike kan wees.

Van die begin af het ons besef dat buitengewone maatreëls nodig sou wees om verspreiding in gemeenskappe te vertraag.

Ons het egter ook besef dat ’n landwye inperking nie onbepaald volgehou kon word nie.

Met die oorskakeling na waarskuwingsvlak 3 vanaf 1 Junie, is ons voorkomingsrespons hoofsaaklik gerig op die eenvoudige alledaagse dinge wat elkeen van ons kan doen om onsself en ons gemeenskappe te beskerm.

Dit beteken dat elkeen van ons persoonlik verantwoordelikheid moet neem waar ons ookal is en wie ons ookal is, om die verspreiding van die siekte te stuit.

Die mag om die koronavirus te oorwin is in ons hande.

Ons respons word nou ook al hoe meer gerig op die brandpuntgebiede met die hoogste tempo van infeksies en om multidissiplinêre gesondheidspanne te stuur om uitbrekings te stuit, sowel as om seker te maak dat die diegene wat die virus het, die nodige behandeling kry.

Ons het ook skandering vir koronavirussimptome regdeur die land beduidend uitgebrei om elke werkplek, skool, universiteit en winkelsentrum, sowel as plekke van aanbidding, taxi-staanplekke en ander openbare plekke waar mense bymekaarkom, te bereik.

Soos baie ander lande, word Suid-Afrika deur die wêreldwye tekort aan toetstoerusting en ander materiaal geraak.

Ons moes ons toetsing derhalwe meer teikengerig toepas deur pasiënte in hospitale, gesondheidswerkers, kwesbare mense soos bejaardes en brandpuntgebiede te prioritiseer.

Hoewel die situasie verbeter, ervaar ons steeds vertragings met toetsing.

Dit het ernstige implikasies vir die doeltreffende behandeling van pasiënte wat die virus het, sowel as om diegene met wie geïnfekteerde mense in aanraking was, na te spoor.

Ons gebruik dus elke beskikbare manier om die voorraad wat ons nodig het te verkry om ons toetsvermoë te verhoog en die omkeertyd te verbeter.

Een van die inisiatiewe wat ons saam met ander lande op die vasteland ondersoek het, is die baanbreker Afrika Medical Supplies-portaal.

Dit is 'n enkele mark op die vasteland waar Afrika-lande toegang kan kry tot kritieke mediese voorraad, soos toetstoerusting vanaf verskaffers en vervaardigers in Afrika, sowel as regoor die wêreld in die nodige hoeveelhede en teen mededingende pryse.

Hierdie platform is aanvullende tot die werk wat ons doen om te verseker dat ons die nodige mediese toerusting, persoonlike beskermende toerusting en hospitaalgeriewe het om die verwagte toename in COVID-19-pasiënte te bestuur.

Mede-Suid-Afrikaners,

Die koronaviruspandemie is nie net 'n wêreldwye gesondheidskrisis nie. Dit is ook 'n wêreldwye ekonomiese krisis van toenemende omvang.

Geen land, geen nywerheid en geen persoon word nie hierdeur geraak nie.

Hier in Suid-Afrika het die pandemie die lewensbestaan van miljoene mense erg ontwrig.

Soos julle weet, kon baie ondernemings wat op 27 Maart hul werksaamhede moes staak weens die inperkingsmaatreëls, nog nie onder die huidige beperkings heropen nie.

Dit sluit in groot ondernemings met duisende werknemers, sowel as talle kleiner ondernemings met net 'n handjievol werknemers.

Dit beteken dat daar ondernemings is wat geen inkomste gekry het nie, en individue wat vir meer as 80 dae geen geld verdien het nie.

Selfs met die maatreëls wat ons ingestel het om ondernemings, werknemers en arm huishoudings te ondersteun as deel van die verligtingspakket van R500 miljard, is daar 'n perk op hoe lank hierdie ondernemings gesluit kan bly.

Toe ek aangekondig het dat die land vanaf 1 Junie na waarskuwingsvlak 3 sal oorskakel, het ek gesê ons sal dit oorweeg om ook ander sektore van die ekonomie te ontsluit mits die nodige veiligheidsvoorsorgmaatreëls in werking gestel en gehandhaaf kan word.                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                                   
        
Na afloop van verdere samesprekings met bedryfsverteenwoordigers oor streng voorkomingsprotokolle en nadat wetenskaplikes geraadpleeg is, gevolg deur oorlegpleging met premiers, het die Kabinet besluit om beperkings op sekere ander

Hierdie aktiwiteite sluit in:

  • Restaurante vir aansit-etes
  • Geakkrediteerde en gelisensieerde akkommodasie, met die uitsondering van tuisversorging en gaste wat akkommodasie deel soos AirBnB.
  • Konferensies en vergaderings vir sakedoeleindes en in ooreenstemming met beperkings op openbare byeenkomste.
  • Flieks en teaters, in ooreenstemming met beperkings op openbare byeenkomste.
  • Casino’s.
  • Persoonlike-sorgdienste, insluitend haarkappers en skoonheidsalonne
  • Nie-kontaksportsoorte soos gholf, tennis, krieket en ander. Kontaksport sal toegelaat word vir afrigting en aangepaste aktiwiteite met beperkte gebruik van fasiliteite.

In elke geval is daar oor spesifieke en streng veiligheidsvereistes ooreengekom, wat in gereedheid gebring sal moet word voordat ’n onderneming kan heropen; protokolle sal streng nagekom moet word as die onderneming oop wil bly.

Aankondigings sal binnekort gemaak word om die besonderhede van hierdie maatreëls uiteen te sit en die datum waarop die aktiwiteite toegelaat sal word aan te dui.

Ons het hierdie besluit met die nodige sorg en erns geneem met inagneming van die risiko's wat met elke aktiwiteit gepaardgaan en die maatreëls wat nodig is om die risiko's te bestuur.

Hierdie nywerhede het altesaam meer as 500 000 mense in diens gehad voor die inperking.

Ons moes aan hierdie mense en diegene wat op hulle staatmaak vir hul lewensbestaan dink.

Deur die inperking te verslap, balanseer ons steeds ons oorhoofse doelwit om lewens te red met die behoefte om mense se lewensbestaan te behou.

Dit is belangrik om te onthou dat dit 'n wêreldwye pandemie is en dat die meeste lande soortgelyke uitdagings ervaar en soortgelyke dilemmas moet oplos.

Ons werk dus nou saam met internasionale agentskappe en ander lande om op die koronavirus te reageer.

As voorsitter van die Afrika-unie is ons integraal betrokke by die vestiging van 'n gemeenskaplike benadering regoor die kontinent, om toe te sien dat ons hulpbronne gemobiliseer word en strategieë ontwikkel word sodat geen land agterbly nie.

Daar is tans meer as 250 000 bevestigde gevalle in Afrika met 6 700 sterftes.

Dit is betreklik laag in vergelyking met die aantal gevalle wêreldwyd – wat nou meer as 8 miljoen is – grootliks omdat Afrikalande vinnig opgetree het om nasionale inperkings te implementeer.

Ons kan egter verwag dat infeksies in Afrika sal toeneem namate lande beperkings verslap weens die ernstige ekonomiese druk, en ons werk saam as 'n vasteland om dié uitdaging die hoof te bied.

Dit was veral belangrik vir ons om persoonlike versorgingsdienste oop te maak, want dit is 'n bedryf wat hoofsaaklik vroue in diens neem.

Die afgelope drie maande was veral moeilik vir die miljoene vroue wat as haarkappers werk, in spa's, as terapeute of tegnici is.

Baie van hierdie ondernemings word deur vroue besit en is 'n bron van inkomste in die informele sektor.

Om vroue die nodige steun te gee om finansieel onafhanklik te word, is veral nou een van ons grootste prioriteite.

Dit is met die swaarste hart dat ek vanaand voor die vroue en meisies van Suid-Afrika staan om te praat oor 'n ander pandemie wat in ons land woed – die moord op vroue en kinders deur die mans van ons land.

As 'n eggenoot, as 'n man en as 'n pa is ek ontsteld oor wat niks minder is as 'n oorlog wat teen die vroue en kinders van ons land gevoer word nie.

In 'n tyd waarin die pandemie ons almal kwesbaar en onseker laat voel, word geweld op vroue en kinders ontketen met 'n wreedheid wat ’n mens se verstand te bowe gaan.

Hierdie verkragters en moordenaars loop tussen ons rond.

Hulle is in ons gemeenskappe.

Hulle is ons pa’s, ons broers, ons seuns en ons vriende; gewelddadige mans met geen agting vir die heiligheid van menselewens nie.

Die afgelope paar weke is nie minder nie as 21 vroue en kinders vermoor.

Hul moordenaars het gedink dat hulle hul kon stilmaak.

Maar ons sal hulle nie vergeet nie en ons sal namens hulle praat waar hulle nie kan nie.

Ons praat namens Tshegofatso Pule, Naledi Phangindawo, Nompumelelo Tshaka, Nomfazi Gabada, Nwabisa Mgwandela, Altecia Kortjie en Lindelwa Peni, almal jong vroue wat deur mans vermoor is.

Ons praat namens die 89-jarige ouma wat in 'n ouetehuis in Queenstown vermoor is, die 79-jarige ouma wat in Brakpan vermoor is en die bejaarde vrou wat in KwaSwayimane in KwaZulu-Natal verkrag is.

Ons sal namens die onskuldige siele van die ongebore dogter van Tshegofatso Pule, wat reeds 'n naam gekry het, die sesjarige Raynecia Kotjie en die sesjarige kind wat dood aangetref is in die veld in KwaZulu-Natal, praat.

Hulle is nie net statistieke nie. Hulle het name en hulle het families en vriende gehad.

Vanaand is ons gedagtes en gebede met hulle.

Ek prys die Suid-Afrikaanse Polisiediens vir hul uitstekende werk om bykans al die vermeende oortreders in hegtenis te neem.

Wanneer hierdie verdagtes vandeesweek hul borgtogaansoeke indien, het ek die grootste vertroue dat ons howe die duidelikste boodskap sal uitstuur dat sulke geweld geen plek in die samelewing het nie.

Op 'n gesamentlike sitting van die Parlement in September verlede jaar, het ek 'n noodreaksieplan aangekondig vir die bestryding van geslagsgebaseerde geweld en vrouedood en dat R1,6 miljard aan regeringsfinansiering her-prioritiseer sal word om die implementering daarvan tot die einde van die finansiële jaar te ondersteun.

Ons het nou 'n nasionale strategiese plan om as riglyn te dien vir ons land se nasionale poging teen geslagsgebaseerde geweld.

Gedurende die inperking het ons seker gemaak dat oorlewendes van geslagsgebaseerde geweld toegang tot ondersteuning en dienste het, insluitend die GGG-blitslyn, sowel as skuilings en sentrums wat ondersteuning aan die slagoffers van seksuele geweld bied.

Sedert Desember verlede jaar is tien geboue in staatsbesit aan die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling oorhandig om as skuilings gebruik te word, aangesien ’n veilige blyplek een van die grootste uitdagings vir oorlewendes is wat uit geweldadige verhoudings wil wegkom.

Oor die afgelope 18 maande het ons bewysbare vordering gemaak om toegang tot ondersteuning vir oorlewendes te verseker.

Dertien streekhowe is opgegradeer in howe vir seksuele misdrywe.

Ter ondersteuning van die handhawing van wetstoepassing is 7 000 bewys-insamelingstoestelle na elke polisiekantoor in die land versprei en meer as 1 000 slagoffervriendelike kamers is vir oorlewendes by polisiestasies ingerig.

Talle polisiebeamptes, aanklaers, landdroste en beleidmakers het sensitiwiteits- en bewustheidsopleiding ondergaan, en meer as 3 000 staatsamptenare wat met kinders en verstandelik gestremde persone werk, is teen die nasionale register van seksoortreders gekontroleer.

Wetswysigings is opgestel rakende, onder meer, minimum vonnisoplegging in gevalle van geslagsgebaseerde geweld, borgtogvoorwaardes vir verdagtes en groter beskerming vir vroue wat slagoffers van geweld in intieme verhoudings is.

Ek doen 'n beroep op ons wetgewers in die Parlement om dit onverwyld te verwerk.

Ons howe was ferm in hul hantering van geslagebaseerde geweld, selfs gedurende die inperking, en het lewenslange vonnisse en veelvuldige lewenslange vonnisse vir oortreders opgelê.

Ek wil die vroue en kinders van Suid-Afrika verseker dat ons strafregstelsel gefokus sal bly op gevalle van geslagsgebaseerde geweld en dat ons meer inhegtenisnemings en meer vervolging teen oortreders kan verwag.

Oortreders van geweld teen vroue en kinders moet vonnisse kry wat by die gruwelike misdade wat hulle pleeg pas.

Dit is baie ontstellend dat die styging in misdade teen vroue en kinders saamgeval het met die verslapping van die koronavirus-inperking.

Volgens die polisie het geweldsmisdaad – veral moorde en poging tot moord –sedert waarskuwingsvlak 3 op 1 Junie in werking getree het, toegeneem.
 
Gevalle van mishandeling van vroue en kinders het ook dramaties toegeneem.

Ons moet onsself baie moeilike vrae oor ons samelewing afvra.

Ons moet veral kyk na die uitwerking van alkoholmisbruik, nie net op geweldsvlakke nie, maar ook op padongelukke en roekelose gedrag.

Verskeie internasionale en huishoudelike studies toon ’n duidelike verband tussen alkoholmisbruik en geslagsgebaseerde geweld.

Dit is natuurlik nie alkohol wat 'n vrou of kind verkrag of doodmaak nie.

Inteendeel, dit is die optrede van gewelddadige mans.

Maar as alkoholmisbruik tot hierdie misdade bydra, moet dit dringend aandag kry.

Ons moet lesse leer uit hierdie inperking en besluite neem oor hoe ons ons samelewing teen die alkoholmisbruik kan beskerm.

Ons moet sekerlik meer ondersteuning aan mense met drankprobleme bied, onder meer deur rehabilitasie en behandeling.

Ons moet verantwoordelike alkoholgebruik aanmoedig, veral onder jong mense.

Ons moet streng optree teen drankwinkels wat die voorwaardes van hul lisensies oortree en wat alkohol aan minderjariges verkoop.

Maar ons sal ook moet kyk na verdere, meer drastiese maatreëls om die misbruik van alkohol te bekamp.

Uiteindelik sal die sukses van ons stryd om geslagsgebaseerde geweld te beëindig die betrokkenheid en ondersteuning van ons hele samelewing vereis.

As ons ernstig is om hierdie misdade te beëindig, kan ons nie langer stilbly nie.

Hierdie oortreders is aan ons en ons gemeenskappe bekend.

Deur weg te kyk, deur slagoffers te ontmoedig om ’n klag te lê, vroue te beskuldig vir hul lewensstylkeuse of hul styl van kleredrag, raak ons by hierdie misdade betrokke.

Ek doen weer 'n beroep op elke Suid-Afrikaner wat vanaand luister, om na te dink oor die gevolge van hul stilte.

As ’n land, bevind ons, ons te midde van nie net een nie, maar twee verwoestende epidemies.

Hoewel hulle baie uiteenlopend van aard en oorsaak is, kan albei oorkom word – as ons saamwerk, as ons elkeen persoonlike verantwoordelikheid vir ons optrede neem en as ons mekaar oppas.

Die pad vorentoe sal lank en moeilik wees.

Die herstelproses sal gewigtig wees.

Maar as daar iets is wat ons die afgelope 100 dae geleer het, is dit dat ons 'n veerkragtige, vindingryke en vasberade volk is.

Ons sal oorwin.

Mag God Suid-Afrika seën en haar mense beskerm.

Ek dank u.

 Union Building