Skip to main content
x

 

Verklaring oor die Kabinetsvergadering wat op Woensdag, 12 Februarie 2020 by die Parlement, Tuynhuys in Kaapstad gehou is

A. Kwessies in die omgewing

1. 2020 Staatsrede (SoNA)


1.1. Die Kabinet verwelkom die 2020-Staatsrede wat op Donderdag, 13 Februarie 2020, deur President Cyril Ramaphosa by die Gesamentlike Sitting van die twee huise in die Parlement, Kaapstad gelewer is. Die Staatsrede is gelewer ter viering van die 30ste herdenking van die vrylating van die Vader van ons Nasie, Tata Madiba, wat op 11 Februarie 1990 as 'n vry man uit die Victor Verster-gevangenis gestap het.

1.2. President Ramaphosa se 2020-Staatsrede het 'n omvattende Program van Aksie (PvA) uiteengesit, wat daarna sal streef om die land se sukkelende ekonomie 'n hupstoot te gee deur die fundamentee ekonomiese grondslae reg te stel.

1.3. Die volgende paar maande sal gekenmerk word deur die implementering van maatreëls wat die trajek van energieopwekking en -verkryging in die land fundamenteel sal verander.

1.4. Die President het planne uitgelig om plaaslike produksie 'n hupstoot te gee, wat klein, medium- en mikro-ondernemings (KMMO's) sal bemagtig. Meer as 1 000 plaaslik vervaardigde produkte sal deur hierdie KMMO's verkry word. Hierdie inisiatiewe sal deel vorm van innoverende maniere om jeugentrepreneurskap en selfindiensneming te ondersteun.

1.5. Die nuwe Tegniese en Beroepsonderwys en -opleidingskampusse (TBOO-kampusse) wat vanjaar gebou gaan word, sal help om die gaping tussen jeugwerkloosheid en vaardighede te oorbrug. Die Jeugindiensnemingsdiens, saam met die TBOO-kolleges en die privaat sektor, sal verseker dat meer leerders praktiese werkplekervaring as deel van hul opleiding ontvang.

1.6. Die Kabinet verwelkom ook die aankondiging van die SheTradesZA-platform, wat ondernemings in besit van vroue sal help om by internasionale waardekettings en markte in te skakel.

1.7. Die Distriksontwikkelingsmodel wat verlede jaar in een metro en twee distriksmunisipaliteite geloods is, sal vanjaar verder in alle distrikte en metro's geïmplementeer word. Dit sal uitvoering gee aan 'n holistiese diensleweringsmodel bestaande uit een plan, wat deur al drie regeringsfere ondersteun word.

1.8. Die President se toespraak het almal geïnspireer om te verenig en vooruit te streef om ons uitdagings te oorwin en 'n florerende Suid-Afrikaanse ekonomie te bou. Die Kabinet nooi alle sektore van die samelewing uit om in vennootskap met die regering die Plan van Aksie te implementeer.

1.9. Tydens vandeesweek se debatte in die Parlement, sal lede van die Uitvoerende Gesag verdere besonderhede verskaf oor die Plan van Aksie, wat in die huidige finansiële jaar en verder geïmplementeer sal word. 

2. Beraad van die Afrika-unie (AU) 

2.1. Die Kabinet wens President Ramaphosa geluk met sy aanvaarding van die AU-voorsitterskap namens Suid-Afrika. Die President sal sy rol gebruik ter bevordering van vrede en stabiliteit, goeie bestuur, geslagsgelykheid en die bemagtiging van vroue ten einde Afrika se ekonomie te laat groei. Later vanjaar sal die Afrika Kontinentale Vryhandelgebied-ooreenkoms (AfCFTA) ook in werking tree.

2.2. Hierdie ooreenkoms bring 'n enkele mark oor 64 nasies van ongeveer 1,2 miljard mense byeen, met 'n gekombineerde bruto binnelandse produk van meer as US$3 triljoen. Suid Afrika, as die Voorsitter, sal 'n beraad aanbied om die AfCFTA-implementeringsprotokol te finaliseer.

2.3. Suid-Afrika sal ook in hierdie hoedanigheid 'n standvastige en vreedsame Afrika nastreef onder die tema: “Silencing the Guns: Creating Conducive Conditions for Africa’s Development”.

2.4. Die Kabinet verwelkom ook die herlewing van die Afrika Diaspora-agenda. Die grootte van die Afrika Diaspora, en die vaardighede en hulpbronne wat dit bevat, noodsaak doeltreffende betrokkenheidsmeganismes om hierdie potensiaal te ontsluit ter bevordering van die ontwikkeling van die vasteland.

3. Duitse ampsbesoek

3.1. Die Kabinet verwelkom die uitkomste van die Duitse Kanselier Angela Merkel se ampsbesoek, wat bestaande betrekkinge tussen die twee lande verstewig het. Kanselier Merkel het Suid-Afrika op uitnodiging van President Ramaphosa vanaf 5 tot 7 Februarie 2020 besoek.

3.2.   Suid-Afrika het die geleentheid gebruik om inligting oor die talle beleggingsgeleenthede wat in die land beskikbaar is, te deel.  Dit is gedoen tydens 'n sakeforum wat bygewoon is deur sowel Suid-Afrikaanse leiers as die sake-afvaardiging wat Kanselier Merkel vergesel het. Duitsland is een van die grootste beleggers in Suid-Afrika, met meer as 600 maatskappye in ons land. 

4. Sosiale-kompakkonvensie oor SosialeSamehorigheid en Nasiebou 

4.1. Die Kabinet sluit hul by President Ramaphosa aan om die uitkomste van die Sosiale-kompakonvensie oor Sosiale Samehorigheid en Nasiebou wat onder die tema: “Die Dekade van Eenheid en Vernuwing: Na 'n Sosiale Kompak vir Samehorigheid en Nasiebou” gehou is.

4.2. Onder die leierskap van die Departement van Sport, Kuns en Kultuur – saam met die Presidensie en ander sleutelbelanghebbers – het die sakesektor, regering, arbeid en burgerlike samelewing hulle verbind tot samewerking om 'n samehorige samelewing te bou en vryheid, vrede en sekuriteit asook respek vir menseregte te bevorder.

4.3. Die sosiale kompak is 'n verdere uitbreiding van die Nasionale Ontwikkelingsplan, wat die behoefte aan vennootskappe om Suid-Afrika te laat groei, bepleit, teen die agtergrond van die sosio-historiese verdelings in die samelewing, veral op grond van ras, wat vandag steeds voortduur.

5. Koronavirus

5.1. Die Kabinet bevestig dat al die gesondheidsinstellings in die land op ʼn hoë gereedheidsgrondslag is om moontlike gevalle van die koronavirus te hanteer. Geen gevalle of vermoedelike gevalle van die virus is al aangemeld nie, en die Kabinet herbeklemtoon die boodskap van die Minister van Gesondheid, Dr Zweli Mkhize, dat alle moontlike maatreëls getref is om enige infeksies in die land te voorkom.

5.2.  Al ons inklaringshawens is op ʼn hoë gereedheidsgrondslag en professionele gesondheidswerkers monitor alle internasionale reisigers se koors. Daarbenewens het Suid-Afrika ook kliniese riglyne en gevaldefinisies ontwikkel en aan dokters en verpleegsters in sowel die openbare as privaat sektor versprei.

5.3. Alle provinsies het reaksiespanne geaktiveer, en is op ʼn hoë gereedheidsgrondslag om gevalle wat moontlik wel in die land mag ontstaan, te identifiseer en bestuur. 'n Aantal hospitale regoor die land is ook as kwarantynsentrums geïdentifiseer om enigiemand wat dalk met die koronavirus besmet mag wees, te behandel. 

5.4. Ons monitor die situasie noukeurig deur ons ambassade in China en ons is daarvan oortuig dat ons voorbereid is om studente en ander Suid-Afrikaanse burgers wat hul tans in Wuhan, China bevind, te ontruim indien nodig. 
 
B. Kabinetsbesluite

6. Verdrag oor Vriendskap en Samewerking in Suidoos-Asië (TAC)


6.1. Die Kabinet keur Suid-Afrika se toetrede tot die TAC goed, wat vir bekragtiging aan die Parlement voorgelê sal word. Die Vereniging van Suidoos-Asiatiese Nasies (ASEAN) is een van die mees snelgroeiende en dinamiese streke in die wêreld. Toetrede tot die TAC sal aan Suid-Afrikaanse ondernemings strategiese toegang tot daardie streek verleen, en ook aan die ASEAN-lande toegang tot Suid-Afrikaanse markte en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap se streeksmarkte gee. 

7.  6de Verenigde Nasies (VN) Simposium van die Internasionale Vennootskap vir Tegnologie in Vredesbewaring 

7.1. Die Kabinet verleen goedkeuring dat Suid-Afrika vanaf 23 tot 26 Junie 2020 as gasheer optree van die 6de Verenigde Nasies (VN) Simposium van die Internasionale Vennootskap vir Tegnologie in Vredesbewaring. Hoewel verskeie lande in die verlede gasheer vir hierdie geleentheid was, sal dit die eerste keer wees dat dit in Afrika aangebied word.

7.2. Die simposium sal bydra tot konflikoplossing op die vasteland, asook die handhawing van vrede en sekuriteit en heropbouing en ontwikkling ná konflikoplossing. Die simposium sal vanjaar op oplossings fokus deur die gebruik van moderne tegnologieë en konsepte in veldmissies onder VN-leiding te bevorder. 

Tydens die simposium sal Suid-Afrika die geleentheid kry om sy plaaslik ontwikkelde tegnologieprodukte en die land se verdedigingbedryfsvermoëns te bevorder.

C. Wetsontwerpe

8. Wetsontwerp op Openbare Verkryging


8.1. Die Kabinet keur die publikasie van die Wetsontwerp op Openbare Verkryging vir openbare kommentaar goed. Sodra die Wetsontwerp verorden is, sal dit die Wet op die Beleidsraamwerk vir Voorkeurverkryging, 2000 (Wet 5 van 2000) herroep en ander verkrygingsverwante wette wysig.

8.2. Die Wetsontwerp stel 'n enkele regulerende raamwerk vir openbare verkryging voor. Dit stel 'n verkrygingsowerheid in om Artikel 217 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika regoor die regering heen te reguleer en te bevorder. Dit maak voorsiening vir meer buigsame wetgewing vir voorkeurverkrygingstrategieë, ter ondersteuning van die regering se sosio-ekonomiese doelwitte. 

9. Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming van 2020

9.1.  Die Kabinet keur goed dat die Wysigingswetsontwerp op Gelyke Indiensneming, 2020 in die Parlement ter tafel gelê word. Die wysigings bemagtig die Minister van Indiensneming en Arbeid, in oorleg met sektorale belanghebbers, om instaatstellende bepalings vir die vasstelling van sektor-spesifieke numeriese mikpunte vir gelyke indiensneming in te voer. Dit verlig ook die reguleringslas op klein werkgewers. Die wysigingwsetsontwerp bevorder gelyke geleenthede en billike behandeling met indiensneming deur die uitskakeling van onbillike diskriminasie. 

10. Wysigingswetsontwerp op die Opgradering van Grondbesitregte

10.1. Die Kabinet keur die publikasie van die Wysigingswetsontwerp op die Opgradering van Grondbesitregte vir openbare kommentaar goed. Die wetsontwerp maak voorsiening vir 'n grondwetlik toelaatbare prosedure vir die bepaling van eiendomsreg en die reg op besetting van grond en regstelling van die grondwetlike ongeldigheid van twee artikels van die Wet op die Opgradering van Grondbesitregte, 1991 (Wet 112 van 1991). Die huidige reëling diskrimineer teen vroue in die omskakeling van die grondbesitregte in eiendomsreg.

10.2. Die Wetsontwerp verseker ook dat die Wet op die hele land van toepassing sal wees, aangesien die Wet voorheen nie op die destydse "onafhanklike state" van Bophuthatswana, Ciskei, Transkei en Venda van toepassing was nie. 

11.  Wetsontwerp op Handelskeepvaart van 2020

11.1. Die Kabinet keur die publikasie van die Wetsontwerp op Handelskeepvaart van 2020 vir openbare kommentaar goed. Die Wetsontwerp wil gevolg gee aan die regering se visie om die maritieme vervoersektor te laat herleef, en sy bydrae tot groei en die radikale ekonomiese transformasie van die land te verbeter. Dit is in ooreenstemming met die  skeepvaartbepalings van die Omvattende Maritieme Vervoerbeleid wat in 2017 deur die Kabinet goedgekeur is. Sodra die wetsontwerp verorden is, sal dit 'n aantal verwante mariene wetgewing herroep. 

12. Wetsontwerp op Spoorveiligheid van 2020

12.1. Die Kabinet keur die voorlegging van die Wetsontwerp op Spoorveiligheid, 2020 aan die Parlement goed. Die Wetsontwerp het ten doel om spoorveiligheid te verbeter en te verseker dat spoorvervoer 'n aantreklike vervoermetode is, wat 'n positiewe bydrae tot ons ekonomie lewer.

12.2. Die wetsontwerp is aanvanklik in Februarie 2018 vir openbare oorlegpleging goedgekeur en is in Maart 2018 in alle provinsies vir openbare oorlegpleging uitgereik. Die goedgekeurde wetsontwerp vir voorlegging aan die Parlement  het insette wat tydens die openbare oorlegpleging ontvang is, in aanmerking geneem. Die parlementêre proses sal ook die wetsontwerp verfyn voordat dit  tot Wet verorden word. 

13.  Wysigingswetsontwerp op die Vervoerappèltribunaal van 2018

13.1. Die Kabinet keur die voorlegging van die Wysigignswetsontwerp op die Vervoerappèltribunaal van 2018 aan die Parlement goed. Die Wysigingswetsontwerp wysig die Wet op die Vervoerappèltribunaal, 1998 (Wet 39 van 1998), wat handel oor appèlle  rakende aansoeke vir padvervoerpermitte (nou bedryfslisensies genoem). Die wysiging neem beleidsveranderings, ontwikkelings en nuwe wetgewing sedert 1998 in aanmerking.

13.2. Die wetsontwerp vereenvoudig en verbeter appèlprosedures, wat tot koste- en tydsbesparings sal  lei en operateurs van oorgrens- en binnelandse padvervoer beter sal toerus om passasiers doeltreffend te vervoer en 'n bestaan te maak.

D. Boodskappe

14.  Gelukwense


14.1.  Die Kabinet dra sy gelukwense oor aan: 

  • die span van Suid-Afrikaanse Graad 11-leerders: Sureshka Naidoo; Caitlin Schwarer; Nondumiso Ntshangase; Nosipho Dube; Mihlali Precious Stofile; Ondele Bede; Okhela Sigwela en Lizalise Dlomo, wat die 5de Internasionale Skynhofkompetisie vir Skole in Pole gewen het. 
  • Suid-Afrikaanse swemmer Natalie du Toit, wat deurgedring het tot die finale vyf kandidate vir die Laureus Sportoombliktoekenning van die afgelope 20 jaar (2000-2020).

15. Medelye

15.1. Die Kabinet betuig sy medelye met die:

  • familie en vriende van professor Joseph Shabalala, die legendariese musikant en stigter van die groep Ladysmith Black Mambazo, wat met ’n Grammy-toekenning bekroon is. Sy musiek het talle mense regoor die wêreld geïnspireer en Suid-Afrikaners verenig. President Ramaphosa het 'n spesiale amptelike kategorie 2-begrafnis  toegestaan om professor Shabalala te vereer.
  • die regering en mense van Kenia, met die afsterwe van die voormalige Keniaanse President Sy Eksellensie Daniel Toroitich Arap Moi, wat as Kenia se tweede President ná bevryding gedien het.
  • familie en vriende van Kaptein Thabiso Collins Tolo (49), Eerste Offisier Tebogo Caroline Lekalakala (33) en Vluginspekteur Gugu Comfort Mnguni (36), wie se vliegtuig op 23 Januarie 2020 in bergagtige terrein naby Mosselbaai in die Wes-Kaap neergestort het. Hulle was almal ten tyde van hul afsterwe in diens van die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaartowerheid.
  • familie en vriende van mnr Marcelino dos Santos, een van die stigters van die Mosambiekse Bevrydingsbeweging (FRELIMO), wat in die ouderdom van 90 oorlede is. Hierdie geskiedkundige leier was ook een van die simbole van Afrika-nasionalisme. Hy was 'n veteraan van die gewapende vryheidstryd van Mosambiek, en was ook 'n politikus en digter wat sy tekste met die skuilname  Lilinho Micaia en Kalungano onderteken het. 

E.  Aanstellings

Alle aanstellings is onderworpe aan die verifikasie van kwalifikasies en die toepaslike klaring.

16.   Mnr Busani Ngcaweni as die Hoof van die Nasionale Regeringskool.
17.   Me Yoliswa Makhasi as die Direkteur-generaal van die Departement van Staatsdiens en Administrasie.
18.   Mnr Ayanda Kanana as die Hoof Uitvoerende Beampte (HUB) en Uitvoerende Direkteur van die Land- en Landbouontwikkelingsbank.
19.   Mnr Basil Bryan Ford as die Uitvoerende Opsigter en Rekenpligtige Gesag van die Suid-Afrikaanse Agentskap vir Universele Dienste en Toegang.
20.   Mnr Luvuyo Keyise as die Uitvoerende Opsigter en Rekeningpligtige Gesag van die Agentskap vir Staatsinligtingstegnologie.

21.   Direksielede van die Suid-Afrikaanse Nasionale Parkeraad: 
a.     Mnr Zola Luxolo Fihlani; 
b.     Me Gertrude Buyelwa Koyana; 
c.     Mnr Faizal Docrat; en
d.     Mnr Jeoffrey Mashele.

22.  Direksie van die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Biodiversiteit: 
a.    Me Phuthanang Cenea Motsielwa;
b.    Me Pamela Bulelwa Yako; en
c.    Dr Kowiyou Yessoufou.

23.  Direksielede van die Isimangaliso Vleilandpark-owerheid:
a.    Prof Antonia Thandi Nzama (Voorsitter);
b.   Me Nomagcisa Cawe;
c.   Prof Christopher Peter Small; 
d.   Mnr Leon Langalibalele;
e.   Me Letlhogonolo Noge-Tungamirai;
f.    Mnr Gonasagren Ganesh Nair; 
g.   Inkosi Tembe Mabhudu Israel;
h.   Verteenwoordiger van KwaZulu-Natal Toerisme-owerheid;
i.    HUB; en
j.    Verteenwoordiger van die Departement van Omgewing, Bosbou en Visserye.

Navrae:
Me Phumla Williams – Waarnemende Kabinetswoordvoerder 
Selfoon: 083 501 0139

 Union Building